Ontleding toon verkrygingsraad betaal tot 600% meer met Amnics-tender

Die omstrede gesondheidstender aan Amnics Trading van Shapwa Kanyama bly in die nuus. Volgens ‘n ontleding deur die Tender Bulletin, het die Sentrale Verkrygingsraad sy eie reëls oorskry deur die tender teen uiters hoë pryse toe te ken. Die gesondheidsministerie het 421 items ter waarde van 1,577 miljard Namibiese dollar toegeken waarvan 21 items aan Amnics toegeken is, al was die kwotasies baie hoog. Die finansminister het onlangs aan plaaslike media bevestig dat die sogenaamde Kode van Goeie Praktyk aandui dat ‘n tender op ‘n voorkeurbasis aan ‘n Namibiër toegeken kan word met ‘n hoër prys maar, dat die prys net 10 persent duur mag wees. Die Tender Bulletin se ontleding toon dat Kanyama se wondverbande 599 persent duurder was op 6,7 miljoen dollar teenoor die laagste bod van 963 000 dollar. Vir binneaarse-toestelle het hy 2,93 miljoen dollar kwoteer, 310 persent hoër as die laagste bod van 715 000 dollar. Sy handskoene was 115 persent duurder as die laagste bod.