Ons het solidariteit met NBC se werkers – LPM, Tucna

Die Grondlose Mense Beweging en die Vakbond Kongres van Namibië het hulle ondersteuning vir die stakende werknemers van die NBC uitgespreek. Die werknemers staak sedert Donderdag verlede week en eis onder andere ‘n 8 persent salarisverhoging sowel as permanente aanstellings vir kontrakwerkers. Die LPM het in ‘n verklaring gesê dat hy solidariteit toon met werknemers wat teen onregverdige arbeidspraktyke optree. Die party het ook sy kommer uitgespreek aan die gebrek aan nasionale nuus tydens die staking en sê die gedrag van die bestuur van die nasionale uitsaaier bedreig demokrasie. Op sy beurt sê Tucna dat hy die situasie monitor en in sal tree as die uitkoms nie in die guns van die werkers is nie. Die betrokke vakbond Napwu hou nou ‘n perskonferensie by die hoofkantoor van die nasionale uitsaaier in die hoofstad.