Onluste: kommer oor veevoer

Die burgerlike oproer in KwaZulu-Natal bedreig die landwye voorsiening van veevoer in die landbousektor. Die uitvoerende direkteur van die Veevoer-vervaardigingsvereniging, De Wet Boshoff, sê die gewelddadige betogings het die voorsiening van veevoer op verskeie maniere geraak. Voermaatskappye in KwaZulu-Natal is afgesny van grondstowwe soos mielies, sonneblomme en sojaboon-oliekoeke. Koringsemels is ook onbekombaar omdat koringmeulens gesluit is. Dit raak nie net die voerketting nie, maar ook die beskikbaarheid van meel en brood.