Ongwediva Handelskou vind einde Augustus plaas

Die jaarlikse Ongwediva Handelskou is om die draai en vind vanaf 26 Augustus tot 1 September 2022 by die skousentrum plaas. Die Ongwediva-dorpsraad se woordvoerder, Jackson Muma, het gesê die plaaslike reëlingskomitee is besig om die fyner besonderhede oor die geleentheid voor te berei. Muma het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die aantal uitstallers sal na verwagting effens daal tot sowat 350, eerder as die gewone 500 uitstallers.