Onderwys weerlê LPM se aantygings

Leiers van die Landless People’s Movement se Jeugbevel het die dringende behoefte aan transformerende hervormings in Namibië se onderwysstelsel uiteengesit. Jeugleier Utaara Mootu het teleurstelling uitgespreek oor die regering se agt-jaar-lange versuim om nuwe skole te bou, en die leiers het die impak hiervan op onderwysgehalte en leerderwelstand uitgelig. Verlede jaar het die onderwysministerie die weermagmaatskappy 26 August Construction gekontrakteer om klaskamers en ablusiegeriewe by openbare skole landwyd te bou vir die bedrag van 255,5 miljoen Namibiese dollar. Mootu sê dat August 26 geen tasbare vordering getoon het nie en geen skole word gebou nie, en sy wil weet waarheen die geld gaan.

Kosmos 94.1 Nuus het met Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur in die onderwysministerie gepraat, wat sê daar is bewyse van al die konstruksie wat deur August 26 gedoen is.