Ondersoeker in Ecuador vermoor

ʼn Openbare aanklaer wat die ondersoek gelei het na die aanval op ʼn TV-netwerk in Ecuador, is in ʼn sluipmoordaanval dood. César Suárez is in die misdaadgeteisterde stad, Guayaquil, in ʼn lokval gelei en doodgeskiet. Gewapende mans het verlede week die openbare TV-kanaal, TC, se ateljee tydens ʼn regstreekse uitsending bestorm en die personeel gedreig. ʼn Kameraman is in die been gewond. Dertien mense is gearresteer en ʼn noodtoestand van 60 dae is afgekondig. Die land se prokureur-generaal, Diana Salazar, sê hulle sal voortgaan om vir geregtigheid te werk.