Ondersoek steeds nie voltooi in Fokshof-saak nie

Die saak van die 65-jarige boerin van Grootfontein, Marieta Wilhelm, sal weer op 29 September voorkom. Die saak word nou herhaaldelik uitgestel omdat die polisie se ondersoek steeds nie voltooi is nie. Die ondersoek moet eers voltooi word voor die aanklaer-generaal klagte kan finaliseer. Sy is op 16 Maart vanjaar in hegtenis geneem na die dood van die 31-jarige Sakaria Kaandje wat drie keer in die kop geskiet is toe hy buite haar huis op haar plaas Fokshof, 100 kilometer buite Grootfontein, deur haar aangetref is. Wilhelm het op 5 April deur middel van ‘n formele borgaansoek, borg van 10 000 Namibiese dollar ontvang. Wilhelm beweer die aanvaller het haar langs die huis ingewag. Sy sê sy het uitgegaan om vir haar honde kos te gee en toe sy weer in die huis wou ingaan, het die aanvaller haar van agter met ’n houtstomp aangeval.