Ondersoek na staatsdokumente by Biden se huis, kantore, brei uit

Prokureurs vir Amerikaanse President Joe Biden het vyf bykomende bladsye met geklassifiseerde merke by sy huis in Wilmington, Delaware, gevind en dit aan die departement van justisie oorhandig. Die Withuis-prokureur Richard Sauber sê hy het die dokumente gevind tydens ‘n besoek aan die president se huis om die oorhandiging van ‘n dokument met geklassifiseerde merke wat vroeër daar gevind is, te fasiliteer. Die jongste aankondiging is bykomend tot die ontdekking van dokumente wat in Desember in Biden se motorhuis gevind is en in November by sy voormalige kantore in die Penn Biden-sentrum in Washington, tydens sy amp as vise-president in die Obama-administrasie. Die oënskynlike wanhantering van geklassifiseerde dokumente en amptelike rekords van die Obama-administrasie word ondersoek deur ‘n voormalige Amerikaanse prokureur, Robert Hur, wat deur die prokureur-generaal Merrick Garland as ‘n spesiale advokaat aangestel is.