Ondersoek kom na bootramp langs Griekse kus
Die organisasies Amnestie Internationaal en Human Rights Watch het ‘n beroep gedoen vir ‘n volledige en geloofwaardige ondersoek na die voorval in Junie toe honderde mense dood is nadat ‘n boot met migrante langs die kus van Griekeland gesink het. Die organisasies sê die teenstrydige weergawes van gebeure wat deur die Griekse kuswag en oorlewendes verskaf word, is baie kommerwekkend. Die boot het volgens berigte tussen 400 en 750 burgers van Pakistan, Sirië en Egipte van Libië na Italië vervoer toe dit in Griekse gebiedswater gesink het. Altesaam 104 mense het oorleef en slegs 82 liggame is gevind. Oorlewendes sê dat die Griekse kuswag ‘n tou aan die boot vasgebind het en probeer het om die boot na die kus te sleep, wat veroorsaak het dat die boot omslaan en sink. Die Griekse kuswag hou vol dat geen pogings aangewend is om die boot te sleep nie.