Ondersoek na verkwiste uitgawes by SA-staatsbegrafnisse

Die Spesiale Ondersoekeenheid sê hy is besig om van die geld te verhaal van diensverskaffers wat buitensporige pryse vir staatsbegrafnisse gehef het. Crocia Events het die regering 76 miljoen Suid-Afrikaanse rand gevra vir die begrafnisse van die ANC-strydros Winnie Madikizela-Mandela, die voormalige kabinetsminister Zola Skweyiya en die voormalige hoof van staatsprotokol, Billy Modise. Die eenheid het aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die onreëlmatighede is deels te wyte aan die Departement van Openbare Werke wat ongekwalifiseerde amptenare toegelaat het om die verkrygingsproses te hanteer én betalings te doen, wat bó die tenderbedrag was.