Omstrede lied by Seweswedstryd in Hongkong gespeel


Rugby: Owerhede in Hongkong ondersoek die speel van ʼn omstrede lied by ‘n wedstryd pleks van die amptelike Chinese volkslied. Die liedjie, Glory to Hong Kong, word as die volkslied van die pro-demokrasie-betogings van 2019 beskou. Die lirieke verwys na demokrasie, vryheid en trane. Die lied is Sondag voor die wedstryd tussen Hongkong en Suid-Korea op die Asiese Sewes in die Chinese gebied gespeel. Die organiseerders het verduidelik ʼn junior personeellid het die lied per ongeluk gespeel en die gasheerspan kan nie die skuld kry nie.