Omikron sonder spuit bied nie beskerming nie

Die jongste navorsing in verband met Covid toon dat oningeënte mense wat die eerste keer met die Omikron-variant besmet is, waarskynlik nie immuunreaksies sal ontwikkel wat hulle teen ander variante van die koronavirus sal beskerm nie. Anders as teenliggaampies wat deur Covid-19-entstowwe of infeksies met vroeëre variante na vore kom, neutraliseer teenliggaampies wat deur die Omikron BA.1- en BA.2-variante gevorm word nie ander weergawes van die virus nie. Die navorsers van die Universiteit van Wene in Oostenryk sê teenliggaampies na ‘n  Omikron-infeksie baie spesifiek vir die onderskeie Omikron-variant is.