Omgewingsministerie in verbinding met familie van slagoffer van buffelskietery

Die man wat deur die Namibiese weermag gewond is toe hulle uit vrees vir bek-en-klouseer ‘n buffelkalf geskiet het, is die 38-jarige Katika Patrick Haushiku. Hy is in sy maag gewond en het met aankoms by die Nyangana-hospitaal beswyk. Die voorval het Dinsdag by die Mwata-nedersetting in die Kavango-Oos-streek plaasgevind. Volgens die woordvoerder van die omgewingsministerie, Romeo Muyunda, is die buffel vanaf Angola oor die grens gejaag en het reeds spieswonde gehad. Die buffel het tekens van aggressie getoon en op die beamptes afgestorm. Die patroon het glo deur die buffelkalf getrek en die man getref. Muyunda het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die ministerie is in verbinding met die oorledene se familie.