Olieprys klim: Geopolitieke spanning, China

Oliepryse het vanoggend verder gestyg en verhandel tans op net meer as 115 Amerikaanse dollar ‘n vat. Daar was vroeër ‘n klein daling na Hongarye ‘n totale verbod op die invoer van Russiese olie na Europa teengestaan het en die VSA aangekondig het dat produksie in Texas en Nieu-Mexiko in Junie verhoog sal word tot ‘n rekord 5,3 miljoen vate daagliks. Maar, daar is optimisme oor herstel in China met Sjanghai wat reeds inperkings verslap het. Die stad het vandag die langverwagte mylpaal van drie opeenvolgende dae bereik met geen nuwe Covid-gevalle buite kwarantynsones nie. Die toenemende geopolitieke spanning met Swede en Finland wat by NAVO wil aansluit het ook die mark skrik in die lyf gejaag omdat Rusland daarvoor moontlik kan vergeld met gas- en olie-uitvoere.