Olie: tekorte van 1,5 miljoen vate daagliks

Internasionale nuusagentskappe berig oor groot kommer oor die olieprys. Die tekorte aan gas in beide Europa en Asië het die vraag na olie skerp laat toeneem. In Julie vanjaar het Opul en sy vennote ‘n ooreenkoms bereik om die besnoeiing van 5,8 miljoen vate per dag teen September 2022 uit te faseer. Die groep het ook daaglikse produksie met 400 000 vate verhoog vanaf Augustusmaand. Die Internasionale Energie-agentskap het tekorte van 1,5 miljoen vate daagliks vir die tweede helfte van die jaar voorspel. Die Internasionale Energie-agentskap sê die globale ekonomiese herstel het veroorsaak dat pryse van gas en steenkool skerp gestyg het wat ‘n massiewe oorskakeling na olie-verwante produkte veroorsaak het.