Olie-reus ontken klimaatsverandering, al doen hy sedert 1977 navorsing wat dit bewys

ExxonMobil was bewus van klimaatsverandering, so vroeg as 1977, 11 jaar voordat dit ‘n openbare kwessie geword het. Dit is volgens ‘n ondersoek deur InsideClimate News. Die maatskappy het wetenskaplikes aangestel wat voorspel het dat wêreldtemperature met 0,2 grade Celsius elke dekade sou styg met die gebruik van fossielbrandstowwe. Maar, die maatskappy het in die openbaar klimaatsverandering ontken. Amerikaanse media berig Exxon se benadering teenoor klimaatsverandering kan vergelyk word met die leuens wat deur die tabakbedryf oor gesondheid versprei was. Albei nywerhede was volgens die berigte bewus daarvan dat hul produkte nie winsgewend sou bly sodra die wêreld die risiko’s verstaan het nie, soveel so dat hulle dieselfde konsultante gebruik het om strategieë te ontwikkel oor hoe om met die publiek te kommunikeer. Exxon het inkomste van 19,66 miljard Amerikaanse dollar in die derde kwartaal van verlede jaar verklaar. Eksplorasiewerk vir nuwe olie- en gasbronne duur voort.