Ohangwena: Geslagsgeweld skiet die hoogte in 

Misdaad, veral geslagsgeweld, skiet die hoogte in in die Ohangwena-streek, in so ‘n mate dat vyf nuwe polisiestasies in die streek gebou gaan word om die huidige tien by te staan. Van die 4 491 misdade wat in die 2021/22-boekjaar aangemeld is, was 3 131 geslagsgeweld-sake. Die streek se goewerneur Walde Ndevashiya sê van al die misdaadsake wat aangemeld is, was geslagsgeweld bo-aan die lys, gevolg deur 983 diefstal-sake, 667 aanrandings, 516 huisbrake, 185 verkragtings, 123 rooftogte en 101 gevalle van veediefstal. Ndevashiya sê daar is planne om nuwe polisiestasies by Ondobe, Epembe en Omboloka te bou. Hulle bou tans nog twee polisiestasies in die gebiede van Endola en Ongha terwyl polisiebarakke in Eenhana gebou word.