Oekraïnse grenswagte wat Russe vloek, en sterf, word wêreldwyd gedeel

Die oorlog woed tans in Kiëf se strate en inwoners is gemaan om binnenshuis te bly. Hulle is ook gevra om petrolbomme in glasbottels, bekend as Molotov Cocktails, voor te berei om hulself te verdedig. Talle is ook volgens berigte met Kalashnikov-aanvalsgewere toegerus. Intussen het Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, beloof om 13 grenswagte postuum te vereer nadat hulle geweier het om ‘n Russiese bevel te gehoorsaam tydens ‘n inval op ‘n eiland in die Swartsee. Die bemanning van ‘n Russiese oorlogskip het glo aan die soldate gesê om hul wapens neer te lê en oor te gee om bloedvergieting te vermy, anders sal hulle gebombardeer word. Die Oekraïners wou egter niks weet nie en het die Russe in geen onsekere taal laat weet hulle is nie bereid om dit te doen nie. Hulle is toe doodgemaak. ‘n Klank-opname van die woordewisseling is reeds derduisende kere aanlyn gedeel.