Odesa gepeper met Russiese missiel-aanvalle

Minstens een persoon is dood en 19 is beseer in die jongste Russiese missiel-aanvalle op die Oekraïnse hawestad, Odesa. Die streeks-goewerneur, Oleh Kiper sê 14 mense word in hospitale behandel, insluitend vier kinders. Ses residensiële geboue is volgens berigte vernietig en ‘n geskiedkundige ortodokse katedraal het ernstige skade opgedoen. Rusland voer bykans daagliks lugaanvalle op Odesa en ander hawestede uit sedert die land van die Swartsee-graan-ooreenkoms onttrek het. Dié ooreenkoms, wat deur die Verenigde Nasies en Turkye bemiddel is, het ‘n veilige deurgangs-roete geskep vir skepe om graan van Oekraïne uit te voer. Volgens Oekraïnse owerhede is sowat 60 000 ton graan vroeër vandeesweek in ‘n Russiese lugaanval vernietig.