O-streke ‘ontduik’ blykbaar belasting

Plaaslike media berig dat die sogenaamde vier O-streke, Omusati, Ohangwena, Oshana en Oshikoto net 3 persent van die belastingbasis in die land uit maak. Die vier streke dra 1,5 miljard Namibiese dollar by aan die totaal van 50,3 miljard dollar. Daar is volgens NamRA net meer as 109 000 belastingbetalers in die streke geregistreer. In 2016 het die destydse finansminister Calle Schlettwein gesê Oshakati het net meer as 81 000 belastingbetalers wat 36,86 miljoen dollar betaal het, wat 450 dollar per belastingbetaler beloop. Op Keetmanshoop betaal elke belastingbetaler 1 527 dollar. Volgens Schlettwein is dit onmoontlik om aan te neem dat ekonomiese aktiwiteite op Keetmanshoop meer is as op Oshakati. Die bedrag van 1,5 miljard dollar sluit BTW, invoere, en meer in, en dus, wil dit voorkom asof inwoners in die Noorde eenvoudig nie belasting betaal nie.