NWR halfmarathon samel die jaar geld in vir skoolskoene

Namibia Wildlife Resorts bied op 1 Junie sy derde jaarlikse halfmarathon aan by die Gross Barmen-oord buite Okahandja. Die toernooi het vanjaar ten doel om fondse in te samel om skoolskoene vir leerders in die Kavango-Oos- en Ohangwena-streke te voorsien. Diegene wat nie kans sien vir die skilderagtige halfmarathon oor 21,1km nie, kan deelneem aan ‘n 5km of 10km stap. Die staatsonderneming beywer homself om te reageer op versoeke wat deur skole in die noordelike en suidelike streke van Namibië gemaak word. Die telekommunikasie-maatskappy Telecom Namibia het 60 000 Nambiese dollar geskenk, terwyl Bank Windhoek 10 000 dollar bygedra het, en Kosmos 94.1-radiostasie 30 000 dollar in bemarking bydra. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Nelson Ashipala, die onderneming se woordvoerder.