NTTU-staking: Polisie kos geld

Die staking deur die Namibiese Vervoer- en Taxi-unie het toe nie Dinsdag afgeskop nie. Die oorsaak is volgens berigte die koste van polisie begeleiding. Blykbaar vra die mag 50 Namibiese dollar per uur per beampte. Nampol het reeds bevestig dat die unie hom kennis gegee het van ‘n protesaksie, maar, die diens moet voor betaal word. Werner Januarie van die unie, sê hulle eis ‘n 40 persent verhoging – 13 dollar tot 18 dollar – in tariewe. Januarie sê die staking sal vandag begin maar dit is nie bevestig nie. Intussen is die ander vervoervakbond, Nabta, steeds in samesprekings met die regering oor ‘n aanpassing in tariewe. Die vervoerraad in die ministerie van werke en vervoer moet ‘n verhoging goedkeur.