Nóg ‘n staatsgreep in Burkina Faso

Gewapende soldate in maskers het Vrydagaand op TV in Burkina Faso verskyn om die uitsetting van President Paul-Henri Damiba te bevestig. Dit is die tweede staatsgreep in die geteisterde Wes-Afrikaanse land vanjaar. Die aankondiging het ‘n dag afgesluit wat begin het met geweervuur naby ‘n militêre kamp in die hoofstad Ouagadougou, ‘n ontploffing naby die presidensiële paleis, en onderbrekings in staats-televisieprogramme. Burkina Faso se nuwe leier is weermag-kaptein Ibrahim Traore. Traore het op TV verskyn omring deur soldate en aangekondig die regering is ontbind, die grondwet opgeskort en die grense gesluit. Hy het ‘n nagtelike aandklokreël afgekondig.