Nog ‘n slenter, die keer met arbeidskwessies

Die arbeidskonsultasie firma Seena Labour het te kenne gegee dat van sy kliënte geteiken word in ‘n nuwe slenter. Volgens die maatskappy word die kliënt geskakel en ingelig dat daar ‘n lasbrief vir arrestasie uitgereik is, in verband met die oortreding van arbeidswette. Kort daarna word die kliënt weer geskakel, die keer deur ‘n sogenaamde arbeidsinspekteur of regsverteenwoordiger wat die probleem kan oplos teen betaling, gewoonlik ‘n betaling per selfoon. Seena sê dit wil voorkom asof die bedrieërs kennis dra van onlangse dispute of kwessies wat deur die maatskappy hanteer is. Hy doen ‘n beroep op die publiek om alle feite te verifieer voor enige betalings gemaak word.