Nóg ‘n SA sanger oortree die immigrasiewet in Namibië 

Nóg ‘n Suid-Afrikaanse sanger en sy orkeslid, Juan Boucher en Rudi Kleingeld, is op ‘n klag van die oortreding van die immigrasiewet skuldig bevind. Landdros John Sindano het hulle in die Walvisbaai-landdroshof tot 3 000 Namibiese dollar elk gevonnis. Die twee en Boucher se vrou, Shamodene, is Saterdag tydens ‘n optrede op Walvisbaai in hegtenis geneem, maar sy is later vrygelaat. Boucher en Kleingeld het wel visums gehad vir hul optrede by die Outjo Wildsfees, maar nie vir hul optrede by die Pirates Wreck Sportkroeg op die kusdorp nie, en is eers Dinsdag vrygelaat. Boucher sê dit was bloot ‘n administratiewe fout.