Nog ‘n rekord vir Namport

Namport sê hy het die Global Brave-vaartuig ontvang wat die grootste petroleumkoks besending ooit, 42 000 ton, afgelaai het. Petroleumkoks is die finale koolstofryke vaste materiaal wat afkomstig is van olieraffinering. Die koks is ontvang van Houston Port in die VSA en sal per pad na Zambië vervoer word. Die produk sal in ‘n kalksteenfabriek in die buurland gebruik word. Namport sê die belangrike mylpaal spreek direk tot die meedoënlose werk wat gedoen is om die hawe te bemark en sulke volumes te kan hanteer. Die eerste besending koks is in 2019 as proeflopie ontvang. Petroleumkoks is ‘n materiaal relatief laag in koste en hoog in hittewaarde en koolstofinhoud met goeie chemiese stabiliteit, wat dit ‘n doeltreffende en koste-effektiewe brandstof maak vir die vervaardiging van metaal, baksteen en verwante produkte. Die volgende besending sal na verwagting in April 2023 by die hawe van Walvisbaai afgelaai word.