Nog ‘n Nampol-bedrogspul, die keer in Otjozondjupa

Die Namibiese polisie in die Otjozondjupa-streek waarsku die publiek oor wat beskryf word as voortslepende bedrogaktiwiteite wat boere, sakelui en pensioenarisse in die streek teiken. Die mag se gemeenskapsbeampte, adjudant-offisier Olivia Haihambo sê sowat 20 mense is tot dusver op Okahandja, Otjiwarongo, Grootfontein en Tsumkwe bedrieg. Die slagoffers is mans en vroue ouer as 50 jaar, en is tussen Desember 2022 en 12 Januarie bedrieg met bedrae wat wissel van 18 600 Namibese dollar en 21 000 dollar. Volgens Haihambo doen die bedrieërs hulself as polisiebeamptes voor wat besig is met sake wat deur die slagoffers geopen is. Die klaers word met arrestasie gedreig indien hulle nie onmiddellik betalings maak nie. Haihambo het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om onmiddellik sulke dreigemente by die mag aan te meld. Die nuus kom kort op die hakke van berigte oor ‘n soortegelyk bedrogspul in die Erongo-streek wat boetes insluit.