Nog ‘n kleinkind deur oupa verkrag, sê polisie

Nog ‘n skokkende verkragting van ‘n minderjarige deur ‘n oupa is in die Noorde aangemeld. ’n 89-jarige man is in hegtenis geneem omdat hy na bewering sy 14-jarige kleindogter by verskillende geleenthede by die Oshikushomunkete-dorpie in die Oshikuku-kiesafdeling verkrag het. NamPol se misdaad-ondersoek koördineerder vir die Omusati-streek, adjunkkommissaris Moses Simaho, sê die voorvalle het na bewering tussen Januarie en Maart vanjaar plaasgevind, maar is nou eers by die polisie aangemeld. “Daar word beweer dat die verdagte die slagoffer verkrag het nadat hy haar by verskillende geleenthede na sy huis genooi het,” sê Simaho. Die saak is deur die meisie se 44-jarige biologiese ma by die polisie aangemeld.