Nog ‘n Kanadese burger in Chinese hof gevonnis

‘n Hof in China het ‘n Kanadese entrepreneur, Michael Spavor, tot 11 jaar tronkstraf gevonnis ná hy op aanklagte van spioenasie en die onwettige verskaffing van staatsgeheime aan ander lande skuldig bevind is. Spavor is sedert 2018 in aanhouding nadat hy saam met ‘n landgenoot en voormalige diplomaat, Michael Kovrig in hegtenis geneem is. Die hof het ook beveel dat Spavor gedeporteer word, maar dit is nog nie duidelik of dit vóór of ná hy sy gevangenisstraf uitgedien het, gaan gebeur nie. Spavor het die reg om teen die hofbeslissing te appelleer. Dit is die tweede Kanadese burger wat in ‘n hof in China verskyn na Robert Lloyd Schellenberg se appèl teen sy doodsvonnis gister van die hand gewys is. Die verhouding tussen China en Kanada is op die oomblik gespanne na die uitlewering van die Huawei-baas Meng Wanzhou. Sy word op die oomblik in Kanada aangehou terwyl ‘n uitlewering-aansoek voortduur.