Nog ‘n GRN-plaas stort in duie

Nog ‘n regeringsplaas het in duie gestort. Volgens die jongste berigte lê plaas Ondera, ongeveer 70 kilometer noord van Tsumeb braak. Geen lande is in die afgelope drie jaar geplant nie en meeste van die vee is vrek na die droogte. Die rede? Die gemeenskap moet sy eie krag betaal. Daar was voorheen ‘n kragrekening maar die het die hoogte ingeskiet. Die regering het daarom voorafbetaalde krag by die plaas ingestel maar, die boere het nie geld om krag aan te koop nie. Ongeveer 3 000 mense woon op die grond. In Mei 2018 is daar berig dat die plaas 500 families gehuisves het met ‘n skool, ‘n groot groentetuin en net meer as 250 bees. Namsov het ook destyds 4 miljoen dollar aan die bedrywighede geskenk. In 2015 het die gemeenskap 71 000 dollar verdien met die verkoop van 50 sakke mielies. Die geld is in ‘n gemeenskapsrekening inbetaal vir gebruik vir die boerdery. Die regering het in 2012, 12 miljoen dollar vir die plaas betaal.