Nog ‘n gewapende roof aan die kus, skiet sommer op Nampol

‘n Gewapende roof is deur die Namibiese polisie by die Narraville diensstasie op Walvisbaai aangemeld. Drie werkers van Windhoek Schlachterei was besig om vleisverkope te doen toe ses gewapende mans wat hulle voorgedoen het as kliënte, die mans bestorm het. Hulle het 50 000 Namibiese dollar in kontant gebuit. ‘n Polisie-voertuig wat aangekom het is op geskiet maar die ses het daarin geslaag om in ‘n rooi Polo te vlug. ‘n Selfoon is ook gesteel. Ook aan die kus is ‘n man in sy huis oorval, sy hond doodgesteek en die rowers het weggekom met 600 dollar en sy Suzuki-voertuig.