Nog 5 by Rooies Mostert se saak betrek

Die Staat sê nog vyf mense sal saam met die voormalige Gobabis-landdros Walter Rooies Mostert op 29 klagte verskyn. Mostert het die week weer in die Windhoek Landdroshof verskyn voor landdros Celma Amadhila. Die aanklaer het bevestig dat nog verdagtes by die saak betrek is en hulle sal hulle eerste verskyning op 21 Junie maak. Mostert staar klagtes wat geldwassery, bedrog en dwarsboming van die gereg insluit, in die gesig. Die Staat beweer dat Mostert in 2012 ‘n Suid-Afrikaanse familie onwettige burgerskap laat bekom het deur vervalste dokumente in te dien en verder, dat hy in 2013, nog ‘n familie bedrieg het en meer as 340 000 dollar uit hulle gemaak het. Mostert bly in aanhouding.