Noa verskyn weer, nuwe aanklaer en nuwe landdros

Die voortslepende hofsaak van die leerlingdokter Dennis Noa, wat van verkragting en poging tot moord op ‘n 18-jarige pasiënt teregstaan, sal na verwagting vandag voortgesit word in die Windhoek streekshof. Dit volg nadat dit op 3 Junie uitgestel is na die aanklaer en die landdros van die saak onttrek het. Landdros Leopoldt Hangalo sê Noa is die seun van Paulus Noa, direkteur van die Teenkorrupsie Kommissie, wat ‘n goeie vriend van hom is. Menencia Hinda, aanklaer, het ook gesê dat sy in noue kontak met die klaer is en as sodanig nie die staat in die saak kan verteenwoordig nie. Noa, wat aanvanklik van die verkragting van ‘n 18-jarige breinbeseerde manlike pasiënt aangekla is, is middel Mei deur die aanklaer-generaal op ‘n bykomende aanklag van poging tot moord aangekla. Hy is tans op borgtog uit van 10 000 Namibiese dollar.