NLU het grondbelastingaanslae met waardeerder-generaal bespreek

Daar is oënskynlike berekeningsfoute op die grondbelastingaanslae vir die afgelope vyf jaar, het die Namibië Landbou-unie aan sy lede gesê. Lede word aangeraai om hul belasting eerder sélf te bereken. Tanja Dahl, die unie se woordvoerder, sê hulle word oorval met navrae van grondeienaars wat reeds hul eerste grondbelastingaanslae ontvang het. Grondbelasting vir die afgelope vyf jaar is teen 31 Oktober vanjaar betaalbaar. Dahl sê aan Kosmos 94.1 Nuus hulle het dit reeds met die waardeerder-generaal in die landbouministerie bespreek.