Nieu-Seeland se grense is oop

Besoekers van reg oor die wêreld word weer in Nieu-Seeland toegelaat met grense wat vandag vir die eerste keer sedert Maart 2020 weer oopgestel word nadat dit weens die Covid-19-pandemie gesluit is. Besoekers moet steeds teen die koronavirus ingeënt wees en moet twee keer ná hulle aankoms getoets word. Daar is egter geen kwarantynvereistes nie. Die eerste minister, Jacinda Ardern, sê die grense se heropening vind reeds sedert Februarie in stadiums en deur versigtige prosesse plaas, aangesien hulle voortgaan om die steeds aktiewe wêreldwye pandemie te bestuur.