NHE-werkers stem vandag oor staking

Daar word verwag dat werknemers van die Namibiese Behuisingsonderneming vandag ten gunste sal stem vir ‘n algemene staking. Volgens Mathew Haakuria, sekretaris-generaal van die Staatsdiensunie van Namibië is die onderneming se finansiële state, wat nog nie geoudit is nie, die rede waarom daar nie aan werknemers se eise voldoen word nie. Die onderneming se direksie het te kenne gegee dat hy eers eise sal oorweeg as hy die state vir die 2021-2022 boekjaar van die ouditeurs ontvang. Volgens Haakuria beteken dit effektief dat werkers sal moet wag dat die oudits afgehandel word voordat hul eise oorweeg word. Hy voeg by dat die onderneming weens finansiële beperkings nie aan werknemers salarisverhogings kon aanbied nie en eerder verkies het om hulle ‘n eenmalige betaling van 15 000 Namibiese dollar per werknemer aan te bied. Die geld is ook verbonde aan die betrokke boekjaar.