Netwerk Namibië bied sake-ontbyt met bekroon landbou-ekonoom aan

Die bekende en bekroonde Suid-Afrikaanse landbou-ekonoom en rubriekskrywer vir Landbouweekblad en Sake24, professor Johan Willemse, is op Donderdag 3 November die gasspreker by ’n sake-ontbyt in Windhoek wat deur Netwerk Namibië aangebied word. Hy sal makro-ekonomiese tendense bespreek en raad gee hoe om ‘n sake-onderneming in die lig hiervan, te posisioneer. Hy is reeds twee keer aangewys as Landbou-skrywer van die Jaar, en was al Absa/Sake se Ekonoom van die Jaar, die veevoervervaardigers se Persoon van die Jaar, die Landbouskrywersvereniging se Landboukundige van die Jaar en talle ander.