Neka eis Ya Nangoloh verskoning

Die Namibia Exile Kids Association, bekend as Neka, het sy misnoeë uitgespreek oor Swapo se besluit weer lidmaatskap aan die omstrede Phil Ya Nangoloh toe te laat. Neka wil weet hoe die party homself so kan verneder. Ya Nangoloh het die afgelope jare baie kritiek teen die stigterspresident Sam Nujoma uitgespreek en ook aantygings gemaak dat Nujoma vir die Suid-Afrikaanse weermag tydens die vryheidstryd met inligting voorsien het. Hy het ook beweer dat Nujoma vir die Amerikaanse intelligensie-agentskap gewerk het. Neka sê die is ook bekend dat Ya Nangoloh ‘n ondersteuner en vriend van die ontslape Jonas Savimbi van Unita was en ook sy begrafnis bygewoon het. Unita het teen die MPLA, wat Swapo ondersteun het, geveg. Neka sê Ya Nangoloh moet in die openbaar om verskoning vra aan Nujoma.