Nege mense in ’22 dood in Kavango Oos in mens-dier konflik
Terwyl die omgewingsministerie onderneem het om teen middel Augustus ‘n vyf-jaar aksieplan teen mens-dier konflik by die kabinet in te dien, sukkel inwoners van die Kavango Oos-streek met die uitdaging. Die goewerneur, Bonifatius Wakudumo sê in die afgelope jaar, het sy streek voorvalle ervaar waarby olifante, krokodille, seekoeie en wildehonde betrokke was. Hy sê 12 mense het beserings opgedoen, terwyl nege mense dood is. Ongeveer 180 000 Namibiese dollar is in vergoeding aan beseerdes uitbetaal met 900 000 dollar wat aan die naasbestaandes van die sterfgevalle betaal is. Volgens die goewerneur is 101 veeverliese, 56 beeste, 44 bokke, een skaap, ‘n donkie en ‘n vark, aangeteken, wat daartoe gelei het dat die regering 180 700 dollar bestee het om die verliese te help verreken. Olifante en seekoeie het altesaam 210 hektaar beskadig, wat tot gevolg gehad het dat 210 000 dollar uitbetaal is.