NEFF-twee hoor vandag oor borg

Katutura-landdros Masule Kwizi sal na verwagting vanoggend uitspraak lewer in die borgaansoek van die Namibia Economic Freedom Fighters Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma. Die twee is reeds meer as ‘n week in aanhouding nadat hul op Vrydag 13 Mei in hegtenis geneem is na chaos by Windhoek se China Town. Ses ander is saam met hulle in hegtenis geneem maar is op eie toesig reeds vrygelaat. Daar is sommige menings dat die staat aspris die saak so lank laat sloer het terwyl lede van die party sê die aansoek is net ‘n formaliteit. Intussen het die China Henan International Cooperation Group daarin geslaag om ‘n dringende interdik teen Amushelelo en die NEFF-party te bekom nadat hulle ‘n staking van padwerkers op 5 Mei begin het. Regter Harold Geier het die interdik toegestaan en die werkers, wat tussen Mariental en Keetmanshoop bedrywig is, beveel om terug te gaan werk toe.