NEFF-lede sal eerder appelleer teen weiering van borg

Die twee omstrede lede van die Namibia Economic Freedom Fighters, Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma, het besluit om eerder hul hoop om borg te bekom op ‘n appèl in die hoërhof te plaas. Die twee het nie ‘n nuwe aansoek by die Katutura-landdroshof gebring nie. Hul regsverteenwoordigers het vroeër gesê hulle sal so aansoek bring omdat daar nuwe inligting is. Intussen is hulle saak in die laerhof tot 28 Julie uitgestel. Hulle staar verskeie klagte wat aanhitsing tot openbare geweld, betreding en aanranding insluit, in die gesig nadat hulle amok in Chinatown gemaak het. Hulle is op 24 Mei na ‘n formele borgaansoek borg geweier. Die twee is sedert 12 en 13 Mei in aanhouding. Die appèl sal op 29 Julie in die hoërhof aangehoor word.