Nauyoma waarsku GIPF-werknemers teen peuter met bewysstukke

Die Staatsinstelling Pensioenfonds sê daar is moontlik gepeuter met bewysstukke in verband met ‘n interne ondersoek wat hy in Augustus vanjaar van stapel gestuur het. Die fonds se uitvoerende hoof, David Nuyoma, het in ‘n uitgelekte en konfidensiële interne skrywe werknemers by die fonds gewaarsku dat dit wil voorkom asof inligting van die maatskappy se rekords uitgevee word. Hy sê dit kan die ondersoek na bedrog by die instelling belemmer. Hy het werknemers ook daaraan herinner dat dit onwettig is en as regsverydeling beskou kan word. Twee personeellede is in Augustus geskors en die ondersoek gelas nadat die leier van die Affirmative Repositioning-beweging Job Amupanda beweer het dat werknemers van die fonds weeskinders se geld gesteel het deur briewe van tersiêre instellings te vervals en die geld in hul persoonlike bankrekeninge inbetaal het. Die beweerde bedrag is blykbaar minstens 2 miljoen Namibiese dollar.