Nasa stel lansering van Artemis 1 wéér uit

Vir die tweede keer in vyf dae het Nasa Saterdag die lansering van sy nuwe maan-vuurpyl, Artemis 1 uitgestel. Dit kom nadat die Amerikaanse ruimte-agentskap Maandag se lansering in Florida ook opgeskort het ná ‘n brandstof-lekkasie en enjinprobleem. Die administrateur van Nasa, Bill Nelson sê die sending-bestuurders sal vergader om te bepaal of ‘n lansering môre of Dinsdag moontlik is. Daarna moet die reuse-tuig na sy monteergebou terugkeer vir inspeksie en instandhouding, wat verdere vertragings sal beteken. Die lansering van die wêreld se kragtigste vuurpyl is die eerste in Nasa se Artemis-projek, ‘n strewe om ruimtevaarders weer terug na die maan te stuur ná die beëindiging van die ruimteprogram se Apollo-program 50 jaar gelede.