NamRA, RFA spreek poreuse grensposte aan

Poreuse grensposte is reeds ‘n geruime tyd ‘n uitdaging vir Namibië en beroof nie net die staat van voldoende invoerbelastings en ander inkomste, maar laat ook smokkelary toe. Die Namibiese Inkomste-agentskap, NamRA het onlangs ‘n ondersoek hierna ingestel en het die week aangekondig dat daar vergaderings met die Padfonds-administrasie in die verband gehou is. NamRA se hoof, Kommissaris Sam Shivute het met sy eweknie by die administrasie Ali Ipinge ontmoet om grensbestuur te koördineer. Die twee het ooreengekom nie net om infrastruktuur te ontwikkel op grensposte nie maar ook om amptenare te bemagtig.