NamPower teken verlies aan vir ’22

NamPower het sy finansiële state vir die boekjaar tot 30 Junie 2022, bekend gemaak. Die maatskappy het ‘n verlies van 1,2 miljard Namibiese dollar vir die jaar aangekondig, teenoor ‘n wins van 1,2 miljard in 2021. Die maatskappy sal geen dividend verklaar nie. Die raadsvoorsitter Daniel Motinga sê die koste van kragopwekking het gedurende die boekjaar met 14 persent van 4,5 miljard dollar na 5,1 miljard dollar gestyg. Om die stand van sake te vererger, het daar lae reënval in die Kunenerivier se opvangsgebied voorgekom wat Ruacana se opwekkingsvermoë vir die jaar op net 781 gigawatt-ure te staan gebring het, teenoor 1 505 wat in die 2019-20 boekjaar opgewek is. Die aanleg kon net minder as 20 persent van die totale vraag na elektrisiteit bydra.