Namport voer in en uit vir Chinese mynmaatskappy

Namport het onlangs 80 splinternuwe kippervragmotors vanaf China ingevoer. Die vragmotors is bestem vir die Xingfeng-myn, ‘n litium-ertsmyn by Omaruru. Volgens Namport het die vragmotors in twee besendings by die hawe aangekom met 40 per besending. Die hawe-owerheid sê die vragmotors sal die myn se kapasiteit en doeltreffendheid verbeter. Die Xingfeng-myn ontgin litiumerts vir sy produksie-aanleg in China. Die erts word gebruik in die vervaardiging van keramiek en glas. Namport sê hy het tot dusver vanjaar 25 000 ton litiumerts na China uitgevoer met ‘n bykomende 50 000 ton wat na verwagting later hier die maand verskeep sal word.