Namport breek rekord met vraghantering
Die Namibiese Hawe-owerheid het sy eie rekord van die hantering van meer as sewe miljoen ton vrag in sy geskiedenis gebreek. Namport het ‘n rekord-hoeveelheid vrag hanteer van meer as 7,69 ton gedurende die 2022/2023-boekjaar in vergelyking met die sowat 6,58 ton vrag wat in die vorige finansiële jaar hanteer is. Dit is ‘n noemenswaardige jaar-tot-jaar toename van 17 persent in vraghantering. Dit is te danke aan die uitvoer van goedere, insluitend sout, nie-edelmetale, steenkool, koper-konsentraat, koper, skeeps-onderdele, ander minerale, swael, bevrore vis en petroleumprodukte, wat ‘n beduidende toename van 44 persent is in vergelyking met die vorige finansiële jaar. Daarbenewens het Namport ‘n toename van 9 persent in die invoer van goedere aangeteken in vergelyking met die vorige finansiële jaar.