Nampol: Vee van meer N$54,2 miljoen gesteel

Die Namibiese polisie het vanoggend in die hoofstad met landbou-unies van Namibië vergader oor die uitdagende landwye kwessie van veediefstal. Nampol-hoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo sê tussen Junie verlede jaar en April vanjaar is 2 681 veediefstalsake landwyd aangemeld waartydens 12 807 groot- en kleinvee ter waarde van meer as 54,2 miljoen Namibiese dollar gesteel is. Nampol het 4 285 vee ter waarde van 26,92 miljoen dollar teruggevind. Die brandpunte van veediefstal is steeds die Otjozondjupa-streek met 465 gevalle, gevolg deur Hardap met 323 gevalle, Omusati met 241 gevalle en Oshikoto met 222 gevalle. Shikongo het die Namibiese Landbou-unie bedank vir ‘n skenking van 50 000 dollar aan die veediefstal-eenheid.