Nampol skiet twee vermeende bendelede dood

Die Kavango Oos-polisie het twee mans by die Ngarama-Teya-nedersetting doodgeskiet nadat inligting ontvang is oor ‘n beplande gewapende roof. Die streek se misdaadondersoek koördineerder, Bonifatius Kanyetu, sê die vermeende rowers het eerste op beamptes geskiet nadat hulle by ‘n mini-padblokkade voorgekeer is. Kanyetu sê die twee was deel van ‘n bende van vier wat in die motor was. Een is beseer en die ander een is op die toneel in hegtenis geneem. Die identiteite van die oorledenes is nog nie bekend nie omdat hul naasbestaandes nog in kennis gestel moet word. Die ondersoek duur voort.