Nampol ondersoek dood van kind, 10, op Mariental

Die Namibiese polisie ondersoek ‘n opspraakwekkende saak op Mariental. Volgens wat berig word het twee kinders na bewering mielies op ‘n plot net buite die dorp gepluk. Die eienaar van die grond het hulle blykbaar ingejaag met sy voertuig. Een kind kon wegkom maar die ander een het agter ‘n baal lusern weggekruip. Die eienaar het oor die baal gery. Die kind, tien jaar oud, is afgevoer hospitaal toe maar is dood aan inwendige beserings. Die insident het groot reaksie uitgelok en talle het op sosiale media melding gemaak van die frustrasie wat boere ervaar met voortdurende diefstal van oeste, vee, sonpanele en meer. Dit is nog nie bekend watter klagte teen die eienaar van die grond gebring sal word nie.